AKSA SPELREELS
Korfbal Wedstryd Reëls
Derde Uitgawe – November 2003
Oorsig
van die Spel
1.
Speelvereistes:
B.
Die Bal
3
C.
Die Spelers
3
D.
Die Skeidsregter
4
E.
Die Tyd
5
F.
Die Telling
5
G.
Beamptes by Wedstryde
5
H.
Toeskouers
6
Reëls:
1.
Posisie van spelers op die veld
7
2.
Afgooi en verloop van spel
7
3.
Binnelyne
9
4.
Buitelyne
9
5.
Doelgooi
11
6.
Opgooi van die bal
12
7.
Dubbelfout
13
8.
Obstruksie
13
9.
Diskwalifikasie
15
10.
Voordeel
15
L.W.:
Hierdie oorsig is bedoel om aan die leek ‘n beeld
van die spel te gee.
Die Suid-Afrikaanse Korfbalspel word deur twee spanne van 9 spelers elk gespeel, op ‘n baan wat in drie afdelings verdeel is. In elke afdeling van die baan tree 3 spelers van ‘n span op (3 doelgooiers, 3 middelspelers and 3 verdedigers). Hierdie spelers mag tydens die spel nooit in ‘n ander afdeling grond raak, op die binnelyne trap en ook nie die bal oor ‘n binnelyn ontvang nie.
Die bal word van speler tot speler deur die lug aangespeel en dit word slegs met die hande hanteer. Die speler wat die bal aanspeel, mag nie daarmee vorentoe of agtertoe beweeg, van ‘n fopaangee gebruik maak of dit vir langer as 2 sekondes vashou nie.
Punte word aangeteken deur die bal van bo-af deur die doelnet te gooi. Wanneer ‘n doelgooier probeer om ‘n doel te gooi, word 5 sekondes toegelaat. ‘n Doelgooier mag in die doelafdeling van enige plek buite die doelsirkel poog om ‘n doel te gooi wat 2 punte tel as dit slaag. Die bal moet met altwee hande gegooi word. Wanneer ‘n speler gestraf word, kry enigeen van die opponerende doelgooiers die geleentheid om ongehinderd te probeer om ‘n doel te gooi; so ‘n doel tel 1 punt.
Spelers mag probeer om die bal te bemeester nadat dit die opponent se hande verlaat het. Spelers mag egter nie die bal uit die opponente se hande gryp of klap nie. Spelers mag nie hul opponente vashou, wegdruk of op enige manier verhinder om te beweeg of die bal aan te speel nie. Twee spelers van dieselfde span mag nooit gelyktydig aan die bal raak nie. Dit is ‘n fout as die bal dwarsoor ‘n afdeling gaan sonder dat ‘n speler in daardie afdeling dit aanraak.
Wanneer spelers van albei spanne gelyktydig ‘n fout maak, word dit ‘n dubbelfout genoem. Dan word die bal by die middelsirkel tussen twee opponerende middelspelers opgegooi, wat dit met die afkom mag klap of vang. Twee middelblok opponente staan met hul voorste voete net buitekant die middelsirkel terwyl hul mede-middelspelers engie posisie in die middelblok inneem.
‘n Wedstryd bestaan uit twee speelhelftes van 25 minute elk, met ‘n rustyd van 3 minute tussenin. Aan die begin van ‘n wedstryd, of nadat ‘n doel behaal is, neem die spelers posisie in soos op die tekening aangedui. Die afgooier staan in die halfsirkel met die gesig in die rigting van sy eie doelpaal. Wanneer die fluitjie blaas, moet die bal binne 2 sekondes na een van die mede-middelspelers aangespeel word.
Wanneer die bal by die speelveld uitgaan, word dit op die plek waar dit uitgegaan het, deur enige opponent van die speler wat binne die veld laaste daaraan geraak het, ingegooi.
Die span met die hoogste aantal punte waneer die speeltyd verstreke is, is die wenner.
Spelers word soos volg genommer:
Ø Lyndoel 1
Ø Kant doele 2 & 3
Ø Afgooi 4
Ø Vlerke 5 & 6
Ø Lynverdediger 7
Ø Kantverdedigers 8 & 9
Nommers van spelers moet ooreenstem met nommers soos aangetoon op baanuitleg.
Die spel word deur albei geslagte afsonderlik gespeel. Oud en jonk neem daaraan deel en dit is ‘n gesinsport by uitnemendheid. Dit is ‘n spel wat vernuf en vaardigheid vereis, waarby krage en geweld nie mag voorkom nie. Samespel tussen spelers is die groot kenmerk van die spel en dus is Korfbal ‘n ware spansport.
TERMINOLOGIE VAN KORFBAL
1. Afdeling Gedeelte van speelveld waarbinne spesifieke spelers moet bly.
2. Binnelyne Die lyne wat die speelveld in verskillende afdelings verdeel.
3. Buitelyne Die kantlyn aan beide kante, sowel as die doellyn aan beide ente van die speelveld.
4. Doelsirkel Die halfsirkel in die doelafdeling waar van buite af doelgegooi word.
5. Middelsirkel Die sirkel in die middelafdeling waaragter die opponente afgooier staan wanneer die bal afgespeel word.
6. Halfsirkel Die halfsirkels in die middelafdeling waarin die afgooier staan wanneer die bal afgespeel word.
7. Vlerke die reghoeke (of “V”) waarby die middelspelers staan met afgooi van die bal. Die spelers wat in hierdie posisie speel, word oor vlerke genoem.
8. Doel ‘n Geslaagde doelgooi poging.
9. Dubbelfout Wanneer spelers van opponerende spanne gelyktydig ‘n fout begaan
10. Voordeel Wanneer ‘n fout begaan word en ‘n speler van die opponente ontvang die bal direk daarna, word laasgenoemde die geleentheid gegee om aan te speel.
11. Afgooi Wanneer die spel begin word. Die speler wat hierdie taak verrig, word ‘n afgooier genoem.
12. Ingooi Wanneer die bal van buite die speelveld in spel geplaas word.
13. Opgooi Wanneer die bal tussen twee opponente in die lug opgegooi word.
14. Vrygooi Wanneer ‘n speler ‘n fout van mindere belang maak, kry die opponente die bal om ongehinderd aan te speel van die plek waar die fout begaan is.
15. Strafgooi Word toegestaan in alle gevalle waar opsetlike, ontoelaatbare spel of doelbewuste obstruksie voorkom.
16. Fopaangee Wanneer ‘n speler maak asof hy/sy die bal gooi en dit dan nie doen nie.
17. Veldwen Om ‘n gunsiger posisie op die speelveld te bewerkstellig deur albei voete te verskuif.
18. Obstruksie As ‘n speler ‘n opponent doelbewus verhinder om die bal te bemeester of aan te speel.
19. Diskwalifikasie Wanneer ‘n speler deur die skeidregter vir ongeoorloofde en ruwe spel van die speelveld afgestuur word.
20. Voorarm Binnekant van die voorarm.
21. Uit spel Wanneer die spel onderbreek is bv., nadat ‘n doel behaal is, of wanneer die bal buite die speelveld is.
22. Plaasvervanger ‘n Speler wat ‘n beseerde of siek speler of n mede speler gedurende die wedstryd vervang.
23. Tellinghouer ‘n Persoon verantwoordelik om op ‘n telkaart aantekening te hou van alle geslaagde doelgooi pogings wat in ‘n wedstryd behaal word.
24. Beheer As ‘n speler die bal vashou of stop gedurende die spel.
SPEELVEREISTES
A.
DIE SPEELVELD
A.1 Die baan is 27m X 18m groot en word in 3 gelyke afdelings oor die lengte verdeel. In die middel van elk van die 18m sye (teenaan die buitelyn) staan die twee doelpale. Vanaf die doelpaal word by albei pale ‘n halfsirkel (die doelsirkel) met 4,5m straal getrek en die twee betrokke gebiede word die doelafdelings genoem, terwyl die middelste gebied die middelafdeling genoem word. In die middel van die middelafdeling word ‘n sirkel van 1m deursnee en twee vlerke met 1m bene aangebring en by die middel van die twee binnelyne, twee halfsirkels van 1m deursnee.
A.2 Weervaste, gras- of grondbane kan gebruik word. Die blad van die veld moet gelyk wees. Grondbane moet grasvry en stewig gebind wees. Weervaste bane moet glyvry wees.
A.3 Langs die omtrek van die veld mag daar binne 1,5m geen hindernisse soos ligpale, mure, keerwalle, drade of vlakverstappings wees nie – (kyk ook H.1).
A.4 Alle lyne op die speelveld moet wit of geel wees, duidelike gemerk en van 25mm tot 50mm breed wees.
A.5 Die doelpale moet ronde staalpype van 75-90mm deursnee wees wat 3m hoog bo die grond is. Die doelpaal moet in die middel van die 18m buitelyn (die doellyn) regop vasstaan. Die binnegrens van die wit buitelyn moet ‘n raaklyn met die binnekant van die paal vorm.
A.6 Die doelring aan die bopunt van die doelpaal moet van ‘n stewige, gladde, ronde staal met ‘n maksimum dikte van 18mm en ‘n binne deursnee van 450mm wees. Plat staalringe word nie toegelaat nie. Dit moet horisontaal (waterpas) en gelyk met die bopunt van die paal stewig bevestig word en moenie opwip as die bal daarop val nie. Ringe moet wit of heldergeel geverf word.
A.7 Doelnette moet behoorlik en korrek aan die doelring vasgemaak word en moet groot genoeg wees om ‘n Nr. 5 bal deur te laat. Wit of geel nylonnette word aanbeveel. (Nette wat te klein is, veroorsaak dat balle uitgeskiet word).
B.
DIE BAL
B.1 Die bal moet rond en van sintetiese materiaal of leer wees. Rubberballe is nie toelaatbaar nie. (Leerballe wat nat is en dié wat te styf gepomp word, rek. Leerballe wat te pap is, rek langs die nate).
B.2 Alle spanne speel met ‘n Nr. 5 bal met ‘n omtrek van 69 to 71cm en ‘n massa van ongeveer 450 gram. (Balle met loshangende riempies en balle met knoppe word nie toegelaat nie).
C.
DIE SPELERS
C.1 ‘n Korfbalspan bestaan uit 9 spelers naamlik, 3 doelgooiers, 3 middelspelers en 3 verdedigers. Hoogstens 3 spelers van dieselfde span mag in ‘n afdeling speel.
C.2 Minstens 8 spelers van ‘n span moet aan die begin van ‘n wedstryd teenwoordig wees. Wanneer ‘n span nie voltallig is nie, word ‘n speler wat laat opdaag, met die medewete van die skeidsregter, nadat die bal uit spel is, toegelaat om aan die spel deel te neem. Nadat spel reeds met 8 of 9 spelers begin het, mag daar nie verder met 7 en minder spelers gespeel word nie. Met ander woorde, indien twee spelers van dieselfde span afgestuur is weens diskwalifikasie tydens die wedstryd. Gediskwalifiseerde spelers se span verbeur die wedstryd punte.
C.3 Geen speler mag sonder die skeidsregter se toestemming die speelveld verlaat nie.
C.4 Hoogstens twee (2) beseerde spelers van ‘n span mag te eniger tyd deur plaasvervangers vervang word. ‘n Plaasvervanger mag slegs, nadat die bal uit spel is, met die medewete van die skeidsregter aan die spel deelneem. Hoogstens twee (2) plaasvervangers per wedstryd word toegelaat. Indien ‘n speler weens siekte of besering nie verder kan speel nie, mag ‘n plaasvervanger die beseerde se plek dadelik inneem en spel gaan voor. Gediskwalifiseerde spelers mag nie met ‘n plaasvervanger vervang word nie. (Kyk ook reël 9.3 (Sien proefreël – bladsy 16).
C.5 Indien albei plaasvervangers reeds gebruik is, mag ‘n oorspronklike speler weer aan die spel deelneem. ‘n Beseerde speler mag weer op eie risiko aan die wedstryd deelneem. Geen nuwe plaasvervangers mag gebruik word nie.
C.6 Beseringstyd van twee (2) minute word op die baan toegelaat. In die geval van ‘n ernstige besering, moet tyd toegelaat word vir die speler om behandeling op die baan te ontvang en/of van die baan verwyder te word. Hierdie tyd word geneem en by betrokke speelhelfte gevoeg.
C.7 Indien ‘n speler ‘n besering opdoen waar bloeding voorkom, moet die betrokke speler die speelveld dadelike verlaat en neem ‘n plaasvervanger sy plek in. sodra die bloeding gestelp is, mag die speler weer sy plek inneem.
D.
DIE SKEIDSREGTER
D.1 In ‘n amptelike wedstryk moet ‘n neutrale persoon as skeidsregter optree.
D.2 Die skeidregter moet die reëls streng toepas en sy/haar beslissing is finaal. Sy/haar verantwoordelikhede behels onder andere:
a) Om die reëls van die spel eenvormig toe te pas;
b) Om toe te sien dat die wedstryd ordelik verloop en om onreëelmatighede te beperk;
c) Om die spel te laat vlot;
d) Om seker te maak dat die toestand van die speelveld en die bal vir speeldoeleindes geskik is.
D.3 Die skeidregter blaas die fluitjie slegs:
a) Wanneer die spel begin of eindig;
b) Nadat ‘n doel aangeteken is;
c) Nadat ‘n fout van enige aard begaan is;
d) Wanneer die bal uit die speelveld gaan.
D.4 Slegs die skeidregter is verantwoordelik vir die tyd en telling – na beraadslaging met die tellinghouer ten opsigte van die tyd en die telling, is sy/haar beslissing finaal. Gedurende rustyd moet die tyd en telling ook gekontroleer word. Indien daar ‘n verskil tussen al drie (skeidregter en twee (2) tellinghouers) is, word die skeidsregter se telling aanvaar.
D.5 Daar kan slegs op grond van onbekwaamheid en/of bevooroordeeldheid en/of eensydigheid teen ‘n skeidsregter geappéleer word. (Enige appél of beswaar moet in oreenstemming met die Beheerliggaam Grondwet en volgens die neergelegde voorskrifte gemaak word).
E.
DIE TYD
E.1 ‘n Span speel 25 minute aan elke kant en rus 3 minute tussenin.
E.2 In geval van gelykopspel by uitklopwedstryde waar ‘n beslissing bereik moet word, moet opnuut geloot word en 5 minute ekstra aan elke kant sonder rustyd gespeel word. As geen beslissing bereik is nie, moet daar ná afloop van elke verdere 10 minute weer geloot word totdat daar ‘n wenner is. As uitspeel weens swak sigbaarheid, reën of andersins nie moontlik is nie, kan die betrokke beheerliggaam anders besluit.
E.3 Die tyd vir oponthoud gedurende die spel (soos beserings) moet by die betrokke speelhelfte gevoeg word. Skeidsregters moenie ekstra tyd vir aantrek van skoene, klere ens., toelaat nie.
E.4 Geen ekstra tyd word vir vervanging van spelers toegelaat nie. Wanneer tyd opsetlik verspeel word by die vervanging van ‘n speler, word dit as tydwen beskou en die oortredende span word met ‘n strafgooi gestraf.
E.5 Wanneer die tyd verstreke is, word ‘n wedstryd nie beëindig voordat die bal eers uit spel is of ‘n doel bheaal is nie.
F.
TELLING
F.1 ‘n Gewone doel tel 2 punte.
F.2 ‘n Strafdoel tel 1 punt en word by ‘n eerste doelbewuste oortreding toegestaan en die betrokke speler word gewaarsku.
F.3 ‘n Verdere strafdoel wat 1 punt tel, word toegestaan wanner ‘n speler nog steeds met ontoelaatbare spel voortgaan.
F.4 Indien dieselfde speler steeds met ontoelaatbare spel voortgaan, word hy die rooi kaart getoon en gediskwalifiseer vir vyf (5) minute en een (1) punt straf word toegeken. (Kyk oor reël 9.1 en 9.2).
G.
BEAMPTES BY WEDSTRYDE
G.1 ‘n Skeidsregter.
G.2 Twee verantwoordelike tellinghouers (een van elke span) wat hulle by die skeidsregters moet aanmeld, of twee buitestaanders deur die skeidregter benoem. Die tellinghouers moet afsonderlik telling hou.
G.3 ‘n Grensregter. Die skeidregter moet van ‘n grensregter met ‘n vlag gebruik maak om aan die oorkant van die veld behulpsaam te wees en om aan te dui wanneer die bal aan daardie kant uit die speelveld is, waar dit uit is en wie dit moet ingooi.
G.4 Tellinghouers en/of die grensregter moet ook gebruik word om die tyd te kontroleer.
H.
TOESKOUERS
H.1 Toeskouers moet 1m vanaf die buitelyne van die speelveld bly. Hierdie reëling geld ook vir spanbestuurders en tellinghouers.
H.2 Toeskouers mag nie ‘n doelgooier hinder om ‘n doel te gooi nie. (Kyk oor reël 5.9).
H.3 Toeskouers wat hulle wangedra, insluitende spanbestuurder, kan deur die skeidsregter van die wedstryd weggestuur word.
SPELREËLS
1.
POSISIE VAN SPELERS OP DIE VELD
1.1 Voor die aanvang van die spel word geloot. Die span wat die loot wen, kies die eerste afgooi of die doelpaal. As span A eerste die paal kies, gooi span B eerste af. Vir die tweede helfte ruil die spanne kant en span A gooi af.
1.2 Aan die begin van die spel, na rustyd en na elke doel neem die spelers hul plekke in soos op die tekening aangedui, dit wil sê, die afgooier se spanmaats staan links van die afgooier se opponente. Die afgooier staan in die halfsirkel met die gesig in die rigting van sy eie doelpaal. Sy opponent staan teenoor hom net agter die middelsirkel.
1.3 Met die afgooi moet die doelgooiers en verdedigers in lyn staan wat feitlik ‘n raaklyn met die doelsirkelvorm. Die kantdoele en kantverdedigers staan regoor die vlerke en die lyndoel en lynverdediger regoor die afgooier.
1.4 Die spelers by die vlerke moet elkeen met een voet voor staan by die punte van die “V”-lyn en die ander voet agtertoe, weg van die lyn af, sodat die toon van die agterste voet ten minste agter (nie regagter) die hak van die voorste voet is. Die spelers mag nie op of oor die lyn trap nie en moet reghoekig staan met die lyn van die “V” reg voor hulle.
1.5 Die skeidsregter kan voordat die fluitjie blaas, nie ‘n speler straf as hy verkeerd staan of oor ‘n lyn trap nie, spelers moet eers gewaarsku word “staan reg” voordat die fluitjie geblaas word. Daarna word ‘n vrygooi toegeken teen die speler wat verkeerd gestaan het.
1.6 Slegs die spankaptein, of anders die spanbestuurder, het die reg om die posisie van spelers op die veld te eniger tyd te verander wanner die bal nie in spel is nie. As die verskuiwing tussen afdelings plaasvind, moet die skeidregter daarvan in kennis gestel word.
1.7 Wanneer ‘n speler gediskwalifiseer is, mag met die medewete van die skeidsregter, verskuiwings in die span op die veld aangebring word. (Kyk oor reël 9.3).
2.
AFGOOI EN VERLOOP VAN SPEL
2.1 Tensy anders gemeld, is alle foute met ‘n vrygooi strafbaar.
2.2 Die afgooier gooi die bal af na ‘n spanmaat in die middelafdeling. Nadat die fluitjie geblaas is, word twee (2) sekondes vir die afspeel van die bal toegelaat. Nadat ‘n doel behaal is, speel die opponente die bal in die middel af soos aan die begin van die spel.
2.3 By die afgooi, met ander woorde, aan die begin van die spel, na rustyd of na ‘n doel behaal is, mag die afgooier nie oor of op die halfsirkel trap voordat die bal die hande verlaat het nie, ‘n vrygooi word toegeken.
2.4 Hande na agter oor die lyn swaai (by die afgooi) is nie ‘n fout nie, maar as met die voet agter oor die lyn getrap word, is dit ‘n fout. As die bal uit die hande agter oor die lyn val, is dit ook ‘n fout. Wanneer ‘n opponente-doel direk in besit van die bal kom, word voordeel toegelaat, anders word ‘n vrygooi toegeken aan opponente vanwaar die bal oorspronklik gespeel was. (Kyk ook reël 10).
2.5 As die bal by die afgooi by die middelafdeling uit die veld gaan sonder dat iemand daaraan raak, begin die opponente die spel. (Kyk ook reëls 4.4 en 8.3).
2.6 As die bal by die afgooi na ‘n ander afdeling oorgaan sonder dat ‘n middelspeler daaraan raak, is dit ‘n fout. Indien opponente die bal bekom, gaan die spel voort, anders word ‘n vrygooi toegeken aan die opponente. Direkte voordeel moet toegepas word.
2.7 ‘n Speler wat die bal ontvang, mag dit nie langer as twee (2) sekondes vashou nie, anders word ‘n vrygooi toegeken. As hy sonder die toedoen van ‘n opponent val, moet hy binne twee (2) sekondes van die bal ontslae raak. ‘n Speler wat ‘n vrygooi waarneem, moet binne twee (2) sekondes, nadat hy regstaan, weer die bal in spel plaas.
2.8 Die bal moet van speler tot speler deur die lug aangespeel word. Dit is ‘n fout as die bal opsetlike gerol of op enige plek in die speelveld neergesit word.
2.9 Die bal moet gegooi word en mag nie met die vuis geslaan word nie.
2.10 ‘n Speler mag nie van ‘n fopaangee (“mik”) gebruik maak nie anders word ‘n vrygooi toegestaan. (‘n Deurlopende, onafgebroke beweging met verandering van rigting word nie as ‘n fopaangee beskou nie).
2.11 As ‘n speler van buite die veld van ‘n fopaangee gebruik maak, kry ‘n opponent die bal om in te gooi.
2.12 As die bal gevang word, mag dit geen deel van die liggaam behalwe die binnekant van die hande en voorarm raak nie, anders word ‘n vrygooi aan die opponente toegeken.
2.13 As ‘n speler opsetlik die bal teen ‘n opponent gooi of druk, is dit nie ‘n fout van die opponent nie en die spel gaan voort. Waar dit egter ontoelaatbare spel is (soos waar die gooi van die bal aggressief is), is dit met ‘n strafgooi stafbaar.
2.14 Indien die bal met die uitgee aan die pols, vooram of ‘n speler se klere raak, is dit nie ‘n fout nie. (Hierdie is slegs van toepassing op klere wat nie die liggaam raak nie, soos byvoorbeeld loshangende rok/hemp ens.).
2.15 As ‘n speler die bal het, mag hy nie daarmee loop of hardloop en daardeur veldwen nie, behalwe waar dit onvermydelik is. (Die bewys van ‘n poging om van volle spoed tot stilstand te kom, is dat die hardlooppas kleiner word). Anders word ‘n vrygooi aan die opponente toegeken.
2.16 ‘n Speler mag nie die bal opsetlik wegklap of in die lug opgooi om daardeur veld of tyd te wen nie. (As enige speler die bal in verdediging wegklap en daardeur bevoordeel word, word dit nie as opsetlik beskou nie). (Kyk ook reël 5.6).
2.17 As ‘n speler voldoende beheer oor ‘n bal het, mag hy/sy dit teen die grond slaan of klap.
2.18 Twee (2) spelers van dieselfde kant mag nie gelyktydig die bal aanraak nie; dit sluit aangee in. (Geen bepaling word gemaak hoe vêr spelers van mekaar moet wees wanneer hulle die bal na mekaar speel nie. Hulle kan baie naby of trouens teen mekaar wees, maar mag nie op ‘n gegewe oomblik albei gelyktydig met die bal kontak hê nie).
2.19 ‘n Speler mag nie die bal gryp, klap of uit die hande neem nadat die opponent dit reeds het nie. (As ‘n speler die bal gryp of klap nadat die opponent dit reeds het en dit blyk onvermydelik te wees, kry laasgenoemde die bal terug om aan te speel).
2.20 Geen speler in besit van die bal mag opsetlik verhinder word om dit aan te speel nie. Nadat die bal reeds die speler se hande verlaat het, mag ‘n opponent egter probeer om dit te bemeester. (Kyk ook reël 8.8).
3.
BINNELYNE
3.1 Alle binnelynoortredings is met ‘n vrygooi strafbaar, behalwe as sulke oortredings kan veroorsaak dat twee (2) punte in een (1) punt verander, dan word die fout verontagsaam. (Dit kom veral voor wanneer die bal van die middelafdeling na die doelafdeling van die aanvallende span gespeel word, of wanneer ‘n verdediger opsetlik oor die binnelyn hardloop. (Kyk ook reël 10.1).
3.2 ‘n Speler mag nie op of oor ‘n binnelyn trap nie. ‘n Speler mag ook nie in twee afdelings gelyktydig grondraak nie. (Oorleun, ‘n arm of been wat oorswaai ens., is nie ‘n fout nie). Vrygooi aan opponente. (Kyk ook reël 3.5).
3.3 As ‘n speler deur die toedoen van ‘n opponent op of oor ‘n binnelyn trap, is dit nie ‘n fout nie. As die speler in besit van die bal was, word die bal teruggegee om aangespeel te word.
3.4 As ‘n speler opsetlik oor ‘n binnelyn gestamp word, tel dit as ‘n fout teen die persoon wat gestamp het. ‘n Een (1) punt strafgooi word dan toegestaan. (Hier berus ‘n mate van diskresie by die skeidsregter. In ‘n harde wedstryd wat teen ‘n vinnige tempo afgespeel word, is dit soms moeilik om te bepaal of ‘n stamp opsetlik was of nie).
3.5 ‘n Speler mag nie die bal oor of op ‘n binnelyn vang of raak nie. (Met die aangee mag die hande egter wel in kontak met die bal wees wanneer dit oor die binnelyn gaan). Vrygooi aan opponente.
3.6 Dit is ‘n fout as die bal oor enige afdeling gespeel word sonder dat ‘n speler daaraan raak. (“Oor ‘n afdeling” beteken hier oor ‘n afdeling van een doelpaal na die ander doelpaal en nie oor die breedte van die veld nie). Indien die bal deur ‘n verdediger oor die middelafdeling na die doelblok gespeel word sonder dat ‘n middelspeler daaraan raak, en die opponente verdediger bekom die bal, word die bal teruggebring vanwaar dit gespeel is, en aan die opponente doele gegee om die vrygooi waar te neem. (Dit is direkte voordeel aan die doele). Indien die opponente doele die bal bekom, is dit direkte voordeel aan die opponente.
4.
BUITELYNE
4.1 As die bal gedurende die spel uit die veld gaan, kry ‘n opponent van die speler wat laaste daaraan geraak of dit uitgespeel het, die bal om in te gooi. (Opponent beteken hier enige van die drie opponente in daardie afdeling van die veld waar die bal uit is).
4.2 Die bal is uit die veld as dit buite die speelgebied of op die buitelyn grondraak, of ‘n persoon of ‘n voorwerp buite die speelveld raak. Indien ‘n speler binne die speelveld die bal oor die buitelyn tydens spel ontvang voordat die bal buite die veld grondraak, of oor die buitelyn aanspeel is die bal nie uit nie.
Indien ‘n speler binne die baan by die paal gereed staan om die bal, na ‘n doelpoging, te bekom en die bal wip op die paal na buite, en die speler spring uit die veld uit en vang die bal sonder dat die bal grond- of voorwerp raak, word die bal deur die opponente ingegooi.
Indien die bal grond geraak het, gooi die verdedigers die bal by die paal in. Met die ingooi van die bal, mag ‘n ander speler nie die bal oor die buitelyn ontvang of raak nie, anders kry sy/haar opponent die bal om op die plek in te gooi waar die fout plaasgevind het. (Kyk ook reël 4.8)
4.3 Die bal is ook uit die veld as ‘n speler in besit daarvan op of oor die buitelyn trap. Al is die bal binne die speelveld en ‘n speler raak daaraan as hy op of oor die buitelyn trap, dan is die bal uit. As die bal gedurende die spel teen die doelpaal raak en dit spring veld in, is dit nie uit nie en die spel gaan voor. ‘n Speler wat deur die toedoen van die opponente buite die speelveld grondraak, word binne die speelgebied teruggebring en spel gaan voort.
4.4 As die bal met die afgooi by die middelafdeling oor die kantlyn gaan sonder dat iemand daaraan raak, begin die opponente die spel, dit wil sê, hulle gooi af. (Kyk ook reëls 2.5 en 8.3).
4.5 Die skeidsregter moet die plek aandui waar die bal ingegooi moet word; die speler wat ingooi, moet net buite die buitelyn staan op die plek waar die skeidsregter aantoon dat die bal uit die veld is. Wanneer dit aan die oorkant van die veld gebeur, mag die skeidsregter hom in sy beslissing deur die grensregter laat lei. As die hande met die ingooi oor die buitelyn gaan, is dit nie ‘n fout nie.
4.6 Wanneer ‘n speler die bal op ‘n verkeerde plek ingooi voordat die skeidsregter die plek aangewys het, word die ingooi herroep en moet die bal weer deur dieselfde speler ingegooi word. As die skeidsregter merk dat ‘n speler nie op die regte plek staan nie, moet hy onmiddellik die speler se aandag daarop vestig en die regte plek aandui. Die spel is aan die gang sodra die speler regstaan om die bal in te gooi.
4.7 Die speler wat die bal ingooi, mag dit, nadat hy gereed is om in te gooi, nie langer as twee (2) sekondes vashou nie, anders kry die opponente die bal om in te gooi. (Dit geld ook wanneer onnodig tyd verspil word om die bal te gaan haal en na die buitelyn terug te keer).
4.8 Die speler wat die bal ingooi, mag nie op die buitelyn of in die speelveld trap voordat die bal die hande verlaat het nie, anders kry die opponente die bal om in te gooi.
(Hande, lyf of selfs voete mag wel oorswaai, maar die bal moet reeds die hande verlaat het voordat daar binne die speelveld getrap word).
4.9 As obstruksie by die ingooi van die bal gepleeg word, word die oortreder gestraf deur ‘n strafgooi teen hom toe te ken. (Kyk ook reël 8.10).
4.10 Wanneer ‘n speler die bal ingooi maar dit bly buite die veld, met ander woorde, dit sny op geen stadium die buitelyn nie, moet dit weer deur die speler vanaf dieselfde plek ingegooi word.
4.11 Wanneer die bal by die doelpaal ingegooi word, moet die speler op die aangeduide plek, links of regs van die paal buite die veld staan. As die skeidregter nie kan vasstel aan watter kant van die paal die bal uit is nie, word die bal aan die kant van die paal ingegooi wat die naaste aan die skeidsregter is.
4.12 Die bal mag agterom die doelpaal ingegooi word, maar indien die bal teen die paal gegooi word en dit spring uit die veld uit, kry ‘n opponent die bal om in te gooi.
4.13 ‘n Speler wat die bal ingooi, mag nie van ‘n fopaangee gebruik maak nie, anders kry die opponente die bal om in te gooi. (Kyk ook reël 2.11).
5.
DOELGOOI
5.1 ‘n Doelgooier mag van enige plek in die doelafdeling buite die doelsirkel ‘n doel probeer gooi. Die res van die spelers in die doelafdeling kan op enige plek staan solank daar nie obstruksie van die doelgooier plaasvind nie. (Obstruksie word gepleeg as ‘n opponent te na aan die doelgooier staan en hom/haar sodoende verhinder of sy/haar uitsig belemmer, of beweeg terwyl die doelgooier besig is om te korrel, of op enige ander wyse opsetlik probeer voorkom dat ‘n doelpoging slaag). (Kyk ook reël 8.12).
5.2 ‘n Doelgooier mag nie tydens doelgooi binne of op die doelsirkel staan nie, anders word ‘n vrygooi aan die opponente toegeken. Die skeidsregter moet dus die fluitjie blaas sodra die doelgooier regstaan om te gooi, maar voordat gegooi word. As die bal die doelgooier se hande verlaat voordat die fluitjie blaas en die doelpoging slaag, word daardie doel buite rekening gelaat en ‘n vrygooi word nog steeds aan die opponente toegeken.
5.3 ‘n Doelgooier wat op of binne die doelsirkel trap nadat hy die bal gevang het en daarna uitspring of uitloop na ‘n posisie buite die doelsirkel, mag nie probeer om die doel te gooi nie.
5.4 As die bal in beweging gevang word sonder dat die doelgooier binne of op die doelsirkel trap en hy land daarbuite en probeer doel gooi, is dit nie ‘n fout nie.
5.5 ‘n Doelgooier wat buite die doelsirkel staan, mag ‘n bal wat in die doelsirkel grond raak en dan uitspring, vang en probeer doelgooi.
5.6 ‘n Doelgooier wat die bal binne die doelsirkel of op die doelsirkellyn uitklap en dit weer buite vang, mag nie self probeer doelgooi nie; ook nie as die bal in verdediging weggeklap word nie. Dit word as veldwen beskou. (Kyk ook reël 2.16).
5.7 Nadat ‘n doelgooier die bal gevang het, mag hy omdraai om ‘n doel te gooi. Die doelgooier mag albei die voete beweeg om gemaklik te staan, mits hy nie daardeur veldwen nie.
5.8 ‘n Doelgooier mag vyf (5) sekondes neem om ‘n twee-punt doel te gooi vandat die bal ontvang is totdat die bal die hande verlaat het, dit wil sê, om om te draai, reg te staan, te korrel en te gooi, mag nie langer as vyf (5) sekondes in belsag neem nie. (Om die tydsduur van die vyf (5) sekondes te bepaal, word die skeidregter aangeraai om 1001, 1002, 1003, 1004 1005 te tel). Eers as die bal deur die net geval het, word die doel toegeken.
5.9 Die doelgooier mag nie deur die opponente of toeskouers gehinder word waneer hy poog om ‘n doel te gooi nie. As die doelgooier gehinder word en mis gooi, kan hy weer vanaf dieselfde plek ‘n doel probeer gooi. Dieselfde geld wanneer die opponente die paal skud sodat misgegooi word.
5.10 As ‘n doelgooier probeer om ‘n doel te gooi, maar die poging misluk en die bal gaan by die veld uit sonder dat iemand daaraan raak, moet ‘n verdediger die bal van buite af ingooi. (Kyk ook reël 10.2).
5.11 As die span gestraf word, mag ‘n doelgooier van die opponente ongehinderd probeer om vanaf enige plek in die doelafdeling (buite die doelsirkel) ‘n strafdoel te gooi.
5.12 Die doelgooier kry drie (3) sekondes om ‘n strafdoel waar te neem, dit wil sê, vandat hy regstaan totdat die bal die hande verlaat.
5.13 Daar mag direk vanaf ‘n vrygooi doelgegooi word, of na ‘n spanmaat gespeel word.
5.14 Tydens ‘n doelpoging mag geen speler onder die paal met sy hande in die lug staan met die doel om die bal te bemeester of die doelgooier se aandag af te trek nie. Indien obstruksie deur opponente direk na die doelpoging gepleeg word en die doel slaag, word sodanige speler gewaardsku of gediskwalifiseer, afhangende van die ernstigheid van die oortreding. Daar word nie weer dadelik ‘n strafdoel teen die oortreder toegeken nie.
6.
OPGOOI VAN BAL
6.1 As twee opponente die bal gelyktydig in spel vang, word dit tussen die betrokke twee spelers op daardie plek opgegooi.
6.2 As die skeidregter nie kan beslis wie die bal laaste by die buitelyn geraak of uitgespeel het nie, word die bal binne die veld 1,5m van die buitelyn deur die skeidsregter tussen enige twee opponerende spelers opgegooi regoor die plek waar dit uitgegaan het.
6.3 As die skeidregter nie kan vasstel wat gebeur het nie, word die bal tussen enige twee opponerende spelers in die betrokke afdeling opgegooi.
6.4 As die bal die skeidsregter raak, word dit op daarde bepaalde plek in die veld tussen engie twee oponerende spelers opgegooi.
6.5 As die bal op ‘n binnely gaan lê, moet dit opgegooi word 1,5m vanaf en regoor die plek waar dit bly lê het in die afdeling waarvandaan die bal gespeel is.
6.6 Wanneer die bal opgegooi word, mag dit met die afkom geklap of gevang word. Die bal is in spel die oomblik as dit die skeidsregter se hande verlaat.
6.7 Die bal word tussen twee opponerende spelers opgegooi ten minste hoër as die langste speler se vertikaal gestrekte arm. Sodra die bal die skeidsregter se hand verlaat het, is dit in spel.
6.8 As die bal na ‘n opgooi direk uit die speelveld of oor ‘n afdeling geklap word, moet die skeidsregter weer die bal op dieselfde plek opgooi. (Sien ook reël 7.7 – dubbelfout).
7.
DUBBELFOUT
7.1 Met ‘n dubbelfout staan enige twee opponerende spelers buite die middelsirkel in lyn met die doelpale en die bal word tussen hulle opgegooi.
7.2 Die bal mag met die afkom geklap of gevang word. (Kyk ook reël 6.6).
7.3 Nadat ‘n speler die bal geklap het, mag hy dit weer vang of direk van ‘n spanmaat terug ontvang.
7.4 Die persoon wat gespring het, mag nie oor of op die sirkellyn trap voordat die bal die skeidsregter se hande verlaat het nie.
7.5 Die vlerke mag enige posisie in die middelafdeling inneem.
7.6 As die bal op enige plek uit die veld geklap word sonder dat een van die ander spelers daaraan raak, moet die skeidsregter die bal weer in die middel opgooi.
7.7 Indien die bal regoor die doelafdeling geklap word sonder dat iemand daaraan raak, moet die bal weer opgegooi word. (Kyk ook reël 6.8).
8.
OBSTRUKSIE
8.1 Alle gevalle van obstruksie is met een (1) punt strafgooi strafbaar. Die eerste ontoelaatbare oortreding word gewaarsku en een (1) punt straf word toegestaan. Engie verdere ontoelaatbare spel deur dieselfde speler word met ‘n geel kaart aangedui en een (1) punt straf word toegeken. Die derde oortreding word met ‘n rooi kaart aangeduie, die speler word fir vyf (5) minute gediskwalifiseer en een (1) punt straf word toegestaan. ‘n Tweede rooi kaart word direk na die eerste rooi kaart uitgereik. Na die tweede rooi kaart in dieselfde wedstryd, word die speler vir die res van die wedstryd gediskwalifiseer. Geen plaasvervanger mag sy plek inneem nie.
8.2 Obstruksie word gepleeg wanneer, by die afgooi van die bal, die opponent gepootjie of met die liggaam of hande weggedruk of vasgehou word sodat hy nie vryelik kan beweeg nie. (Vlerke pleeg soms obstruksie deur hul voete so te plaas dat die opponente nie ongehinderd kan beweeg by die afgooi nie).
8.3 As die bal by die afgooi as gevolg van obstruksie deur die opponente uit die veld gaan, moet die afgooier se span nie gestraf word nie, die span wat die obstruksie gepleeg het word gestraf. (Die skeidsregter moet sy oordeel hier gebruik, want indien dit nie opsetlike obstruksie is nie, behoort hy die span wat afgegooi het weer die geleentheid gee om die bal af te gooi).
8.4 Terugdruk, wegdruk, afdruk, vashou, elmboë gebruik en been voorsteek is obstruksie en word ook gestraf. Dit geld ook wanneer twee of meer spelers van dieselfde span aan mekaar vashou met die nadruklike oogmerk om die opponente te benadeel.
8.5 Geen speler mag die een wat die bal het, opsetlik verhinder om dit aan te speel nie. Die speler word gehinder, nadat die bal bemeester is, as ‘n opponent voor of vas teen hom bly staan sodat die speler nie die bal vrylik kan aanspeel nie.
8.6 Obstruksie word ook bepleeg as ‘n opponent die arms omhoog hou of voor ‘n speler opspring voordat die bal sy hande verlaat het sodat dit nie ongehinderd aangespeel kan word nie.
8.7 As obstruksie nie opsetlik is nie, maar dit eerder die gevolg is van ‘n poging van ‘n opponent om die bal te bemeester, moet die speler wat die bal in besit het, geleentheid gegee word om sy balans te herwin (of om op te staan as hy deur die toedoen van ‘n opponent geval het, of om die opponent wat teen die speler aanleun of oor hom lê uit die pad te help) en daarna die bal aan te speel.
Die speler word in daardie geval nie gestraf as hy die bal langer as twee (2) sekondes vashou voordat dit aangespeel word nie, omdat hy onopsetlik verhinder is om dit te doen.
8.8 Sodra die bal ‘n speler se hande verlaat het (behalwe by die doelpoging), mag ‘n opponent ‘n wettige poging aanwend om die bal te bemeester. (Kyk ook reël 2.20).
8.9 ‘n Speler mag nie sy opponent vashou of moedswillig wegdruk of terugdruk nie. Geen speler mag deur ontoelaatbare spel verhinder word om die bal te bemeester nie. Dit sluit ook in wanneer ‘n speler opsetlik ‘n opponent onderstebo loop of teen hom/haar vashardloop. ‘n Speler mag ook nie in ‘n ander afdeling, waar die bal op daardie oomblik nie in spel is nie, deur ontoelaatbare speelmetodes benadeel word nie.
8.10 As die bal van buite af ingegooi word, mag die opponente nie vashou, wegdruk, vaskeer of voet voorsteek om sodoende die spelers van die aanvallende span te verhinder om die bal te bemeester nie. (Hierdie tipe spel is ‘n oortreding van die spelreëls wat binne die speelveld van toepassing is. Die obstruksie vind binne die speelveld plaas en sodra die ingooier regstaan, is die spel aan die gang).
8.11 Dit is ook obstruksie as ‘n speler wat nader hardloop binne ‘n armlengte van die opponent met sy rug na die bal verdeig met die opsetlike oogmerk om die opponent te verhinder om die bal te bekom, want hierdie taktiek is daarop gemik om die beweging van die opponent te beperk.
‘n Speler wat stilstaan mag nie met die rug na die bal verdedig nie.
8.12 Obstruksie word ook gepleeg as ‘n verdediger teenaan ‘n doelgooier gaan staan wanneer ‘n doel gegooi word, of wanneer die verdediger probeer om die konsentrasie van die doelgooier te versteur, hetsy deur posisie, woord of bewegings. (Kyk ook reël 5.1).
8.13 Die doelgooier moet binne die vasgestelde tyd poog om ‘n doel te gooi. As obstruksie gedurende die poging gepleeg word, en slaag die doelpoging nie, word die oortredend span gestraf. Dan word die doelgooier weer die geleentheid gegee om van dieself plek ongehinderd te probeer om ‘n doel te gooi. (Kyk ook reël 5.14).
8.14 Wanneer ‘n speler die bal ontvang en hy word opsetlik uit die speelgebied gedwing, word dit as obstruksie beskou. (As obstruksie nie opsetlik is nie, kry die speler geleentheid om in die speelgebied terug te kom en ongehinderd aan te speel).
8.15 ‘n Speler mag ook nie van ontoelaatbare speelmetodes gebruik maak soos byvoorbeeld, om aan die paal te gryp of daarvandaan weg te swaai nie. Die doelpaal mag ook nie gebruik word om opsetlik ‘n opponent af te skud nie. Tensy ‘n verdediger in spel uit die veld gedwing word en buite die speelveld moet staan tydens ‘n doelpoging, gaan die spel voort. Dit is ‘n fout om opsetlik buite die speelveld te beweeg tydens spel. (Kyk ook reël 4.2).
9
DISKWALIFIKASIE
9.1 ‘n Speler word vir die volgende oortredings vir ‘n volle vyf (5) minute van die veld gestuur, waarna hy weer mag terugkeer:
9.1.1 Vir herhaaldelike opsetlike en vermydelike ruwe spel en obstruksie.
9.1.2 Vir herhaaldelike onbetaamlike gedrag, taal en steurende gebare.
9.2 As ‘n speler vir die tweede keer in dieselfde wedstryd gediskwalifiseer word, mag hy nie terugkeer nie en die skeidsregter moet die aangeleentheid by die betrokke beheerliggaam rapporteer.
9.3 Geen plaasvervanger mag die plek van enige speler wat afgestuur is, inneem nie. Met die eerste onbetaamlike, opsetlike ruwe en gevaarlike spel word die speler onmiddellik vir die res van die wedstryd gediskwalifiseer. Hierdie aangeleentheid moet onmiddelik na afloop van die wedstry by die betrokke beheerliggaam gerapporteer word. (Kyk oor reël 1.7 en 8.1).
10.
VOORDEEL
10.1 As ‘n speler ‘n oortreding begaan, maar ‘n opponent kom tog in besit van die bal om sodoende ‘n gewone doel te probeer gooi, of om aan te speel, word hierdie oortreding verontagsaam; dit word as voordeel bestempel en die skeidsregter roep “voordeel”. Blyk dit egter dat die opponente geen onmiddellike voordeel uit die fout kan behaal nie, word die fluitjie vir die betrokke oortreding geblaas. (Direkte voordeel deur die aanvallende span is hier van belang en nie posisie nie). (Kyk ook reël 3.1).
PROEFREëLS
|
|
|
VOORGESTEL |
DATUM
AANVAAR DEUR AJV |
DATUM
REëLBOEKIE
VERANDER |
|
P.1 |
Hoogstens drie (3) spelers van ‘n span mag ter eniger tyd deur plaasvervangers vervang word. ‘n Plaasver-vanger mag slegs nadat die bal uit spel uit is, met die medewete van die skeids-regter aan die spel deel-neem. Indien ‘n speler weens siekte of besering nie verder kan speel nie, mag ‘n plaasvervanger die beseerde se plek dadelik inneem en die spel gaan voort. Gediskwalifiseerde spelers mag nie met ‘n plaasvervanger vervang word nie. |
Nov 2001 Nov 2002 |
Nov 2002 |
|
|
P.2 |
|
|
|
|
|
P.3 |
|
|
|
|
|
P.4 |
|
|
|
|
|
P.5 |
|
|
|
|
|
P.6 |
|
|
|
|
|
P.7 |
|
|
|
|
|
P.8 |
|
|
|
|
|
P.9 |
|
|
|
|
|
P.10 |
|
|
|
|
WEDSTRYDVERPLIGTINGE
11.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIE BEHEERLIGGAAM BESTUUR, UITVOERENDE BESTUUR EN
SKEIDSREGTERVERENIGING BEHEERLIGGAAM BESTUUR
11.1 Die Uitvoerende Bestuur bepaal jaarliks in watter kompetisie ‘n span deelneem.
11.2 Die Uitvoerende Bestuur bepaal die datum, tyd en plek van elke wedstryd.
11.3 Die Bestuur van die Skeidsregtersvereniging besluit welke skeidsregter ‘n bepaalde wedstryd sal hanteer.
11.4 Reëlings betreffende pers, radio en televisie staan onder die beheer van die Uitvoerende Bestuur van AKSA.
12.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN UNIES
12.1 ‘n Speler moet amptelik by ‘n Unie registreer. Unies moet toesien dat die bepalings en vertolking van die Grondwet oor vrystelling nagekom word.
12.2 Spanne bly ten volle onder die jurisdiksie van hul Unie wat moet toesien dat wedstrybepalings nagekom word.
12.3 Bane van skole en klubs word beskou as ten volle onder beheer van die betrokkie Unie. ‘n Persoon moet as “beampte in beheer” aangestel word.
12.4 Geen alkoholiese drank of opkikkers mag voor of tydens ‘n wedstryd geneem word nie. Skeidsregters meld sulke gevalle dadelik by die betrokke Uniebestuur of AKSA Bestuur aan vir verdere stappe.
12.5 Alle moontlike fasiliteite en hulp moet aan verteenwoordigers van die pers, radio en televisie verleen word.
12.6 Die voorgeskrewe spaninskrywingsgelde by die AKSA is deur die Unie betaalbaar.
12.7 Unies moet hul verteenwoordigende spanne van spankaarte vir wedstryde voorsien waar dit nie alreeds deur die AKSA verskaf is nie.
13.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN DEELNEMENDE SPANNE
13.1 Wedstryde word volgens die reëls van die AKSA gespeel.
13.2 ‘n Span wat ‘n wedstrydbepaling nie kan nakom nie en gevolglik punte afstaan, moet die AKSA Bestuur en daarna die ander span onverwyld daarvan in kennis stel, of Unie waar van toepassing.
13.3 ‘n Span moet self sy eie bal vir wedstryde verskaf en is geregtig om een speelhelfte met sy eie bal te speel. Slegs voorgeskrewe balle mag gebruik word. Waar moontlik sal balle egter die Beheerliggaam Bestuur se verantwoordelikheid wees.
13.4 Bekwame telling hours moet voor die aanvang van ‘n wedstryd by die skeidsregter aanmeld om met die tyd en telling behulpsaam te wees. Spankaarte moet voor die westryd volledig ingevul en aan die skeidsregter oorhandig word.
13.5 Alle spelers van ‘n span moet in eenvormige spandrag aan wedstryde deelneem. Waar kleure van opponerende spanne moeilik onderskeibaar is, moet ‘n duidelike onderskeidingsteken deur ‘n span gedra word. Sportskoene en enkellengte sokkies waarvan die basiese kleur wit is, moet gedra word. Dames moet met rompies en mans met rugby broeke speel. Voorwerpe soos horlosies, harde rand pette en juwele wat moontlik beserings kan veroorsaak, mag nie gedra word nie. Naels moet kort geknip wees. Enkel en knie stutte moet behoorlik met breë pleisters of verbande bedek wees. Juwele wat nie afgehaal kan word nie, moet ook so bedek word.
13.6 Enige klagtes moet deur die betrokke Unie onder die Beheerliggaam se aandag gebring word. In geval van ‘n appél moet dit skriftelik, tesame met die voorgeskrewe appélfooi, binne 72 uur by die Beheerliggaam ingehandig word.
13.7 ‘n Span is verantwoordelik vir sy eie vervoer- en ander onkoste en die Beheerliggaam aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige onkoste aangegaan of ongerief gely nie.
13.8 Spelers neem op eie risiko aan die wedstryde deel en geen eise teen enige persoon of instansie wat ontstaan as gevolg van beserings tydens, voor of na ‘n wedstryd of as gevolg van beserings met vervoer van of na die speelveld, kan oorweeg word nie.
14.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN TUISSPANNE
14.1 Die tuis Unie moet toesien dat speelvelde in ‘n behoorlike toestand is.
14.2 Die tuis Unie moet toesien dat geen neerhalende op- of aanmerkings deur enigiemand op die skeidsregter of spelers gemaak word nie en moet behoorlik beheer oor toeskouers uitoefen.
14.3 ‘n Persoon met kennis van noodhulp moet by die wedstryde teenwoordig wees
14.4 Mededingende spanne moet ‘n bekwame grensregter aanwys indien daar nie alreeds deur die Skeidsregtervereniging ‘n persoon in daardie hoedanigheid aangewys is nie.
15.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN BESOEKENDE SPANNE
15.1 Besoekende spanne moet by die tuisspan vasstel presies waar speelvelde geleë is.
15.2 Voordat die besoekende span vertrek, moet die spanbestuurder by die tuisspan vasstel of weersomstandighede vir speeltoestande geskik is.
15.3 Voor aanvang van ‘n wedstryd moet die spanbestuurder vasstel of speelvelde ens., in orde is. Engie defekte moet onder die skeidsregter se aandag gebring word.
15.4 Uitstel van hoogstens 30-minute na die tyd wat bepaal is, mag aan ‘n span deur die skeidsregter toegestaan word. Daarna word die punte aan die opponente toegeken. Dit word egter aan die skeidsregter se diskresie oorgelaat om te besluit of daar genoegsame redes bestaan om tog nog die wedstryd te laat plaasvind as spanne laat arriveer en albei kaptein dit verlang.
16.
VERANTWOORDELIKHEDE VAN SKEIDSREGTERS
16.1 Slegs die skeidsregter is in volle beheer van die wedstryd. Hy moet in die Skeidsregtersvereniging se voorgeskrewe sportdrag optree.
16.2 Enige besware moet onmiddellik skriftelik deur die spanbestuurder of kaptein onder die skeidsregter se aandag gebring word. Enige klagtes en onreëlmatighede moet skriftelik deur die skeidsregter onder die Skeidsregtersvereniging Bestuur se aandag gebring word.
16.3 Die skeidsregter besluit watter veld vir ‘n betrokke wedstryd gebruik sal word, as dit nie deur die Beheerliggaam bepaal is nie.
16.4 Doelgooi oefening voor ‘n wedstryd of tydens rustyd is toelaatbaar.
16.5 Indien die skeidsregter oortuig is dat ‘n wedstryd weens weersomstandighede nie gespeel kan word of kan voortgaan nie, sal sodanie wedstryd an nie-gespeel beskou word en by ‘n latere geleentheid oorgespeel word.
16.6 Slegs die spanbestuurder mag gedurende ‘n oponthoud of met pouse op die speelveld kom.
16.7 Spankaarte moet deur die spanbestuurder korrek gesertifiseer en deur die skeidsregter onderteken word. Laasgenoemde moet toesien dat die korrekte puntetelling op albei kaarte ingevul is en die kaarte so spoedig moontlik by die Beheerliggaam besorg.
Alle oortredings en waarskuwings moet agterop die telkaart aangedui word en aan die Skeidsregtersvereniging Bestuur gerapporteer word. Sodanige oortredings word op register aangeteken,vir moontlike dissiplinere stappe teen speler